Menu Close

Nuus: Die Burger -12 Oktober 2018

Italië bring ’n gerf prente na Kaapstad

Nege van die jongste Italiaanse rolprente, wat reeds hul slag op internasionale feeste gewys het, is te sien op Kaapstad se internasionale rolprentmark en -fees.
Hier is van die prente wat vertoon word:

*Die veelbekroonde Dogman is Italië se amptelike inskrywing vir die Oscar-resies. Dié prent van regisseur Matteo Garrone handel oor Marcello, ’n gemoedelike man wat honde versorg vir ’n lewe. Sy lewe ontspoor as hy ’n vriendskap met ’n gewelddadige eertydse bokser aanknoop. Tog blyk dit of Marcello sy stem gaan dik maak. Die prent wys in die Nu Metro-teater, V&A Waterfront, op 13 Oktober om 17:00 en op 17 Oktober om 17:45.

*The Ball (Balon) is ’n koproduksie met Sierra Leone en fokus op twee weeskinders wat uitgelewer is aan ander se welwillendheid – hulle werk onder meer as slawe en word in ’n tronk aangehou voordat hulle op ’n boot na ’n onbekende bestemming gestuur word. Die prent word nie vir sensitiewe kykers aanbeveel nie. Pasquale Scimeca is die regisseur. Dit wys op 16 Oktober om 17:45 in die Cinema Nouveau en op 17 Oktober in Nu Metro-teater in die V&A Waterfront.

*Vriendskap is ook die fokus van The World Is Flat van die regisseur Matteo Carrega Bertolini. ’n Jong man is pas klaar gestudeer en dwaal verlore rond. Hy smee ’n vriendskap met ’n musikant en hulle gaan saam op reis. Dit wys op 13 Oktober om 20:00 in die Cinema Nouveau en op 18 Oktober om 18:30 in Nu Metro-teater, albei in die V&A Waterfront.

*We’ll Be Young and Beautiful ondersoek die verhouding tussen ’n sangeres en haar seun. Hoewel die ma steeds ’n mate van sukses behaal met die liedjies wat haar as tienerster beroemd gemaak het, is haar seun as begeleier nie tevrede met sy lewe nie. Hy droom om uit die klein dorpie te ontsnap, maar sal dan sy ma eensaam agterlaat.
Die regisseur is Letizia Lamartire. Dit wys op 14 Oktober om 18:30 in die Nu Metro-teater en op 19 Oktober in die Cinema Nouveauteater in die V&A Waterfront.

*Toegang is R50. Sowat 80 rolprente, ook dokumentêre en kortprente, is op die program van die fees wat tot 19 Oktober duur. Besoek www.filmfest.capetown vir meer inligting.
 
Die plakkaat van Italië se Dogman, wat in Kaapstad
 
 
By Laetitia Pople
Redakteur Kuns en Vermaak | Arts and Entertainment Editor
T: 021 406 3443 S: 076 889 3046   E: laetitia.pople@24.com
Naspers-sentrum, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001. Posbus 692, Kaapstad, 8000

Article link